Ek het besluit om my getuienis met julle te deel, oor die Here se genesing in my lewe.
Omtrent 10 jaar gelede, is ek met hoё bloeddruk gediagnoseer. Ek het medikasie daarvoor gekry om te drink. Maar die bloeddruk het toe alreeds skade aan my hart veroorsaak. My linkerkantste hartkamer was vergroot, omdat my bloeddruk vir te lank baie hoog was.
Ek het ‘n kardioloog gaan sien en het ook ‘n hart pil gekry om te drink. Ek was baie moeg met tye, deurdat my hart harder moes werk om bloed na die hartkamers toe te vervoer. Ek kon ook fisies drukking op my borskas ervaar.
Deur die jare het ek gewoond geraak om die pille te drink vir die hoё bloeddruk en vir my hart. In 2014 het die Here vir my gesê, dat Hy my gesond gaan maak. Stuk vir stuk gaan Hy my gesond maak. Ek het al die jare vas gehou aan die Here se belofte en aanhou glo en vertrou dat die Here my gaan genees.
Omtrent so 3 jaar gelede op ‘n warm somersdag het ek in my studeerkamer gesit. Ewe skielik het ek verskriklik begin sweet en het begin sleg voel. Ek het gedink ek het dalk weer hoë bloeddruk, want lank terug toe ek gediagnoseer was met hoë bloeddruk het ek ook so baie gesweet.
Ek het besluit om na ons naaste apteek te ry, waar ‘n verpleegster aan diens was sodat sy my bloeddruk kon meet. Die verpleegster het my bloeddruk gemeet en sy het gese dit is baie laag. Op daardie stadium kon ek nie verstaan hoe dit moontlik is nie. Ek het my huisdokter gaan sien en hy het my bloeddruk pil verlaag na ‘n halwe pil per dag.
Die dokter het my maandeliks gemonitor en my bloeddruk het begin stabiliseer. Dit was nooit weer hoog nie en partykeer bietjie laag. My dokter het toe vir my gesê om die pil heeltemal te stop. Hy het my nogsteeds gemonitor en tot vandag toe is my bloeddruk normaal.
Woorde kan nie beskryf hoe ek ooit vir die Here dankie kan sê nie. En loof en prys Hom elke dag vir die wonderwerk wat Hy in my lewe gedoen het!!!
‘n Paar jaar terug het ek in ‘n visioen gesien, dat ek by die kardioloog is en die dokter se assistent ‘n sonar doen. In die visioen het ek gesien dat die assistent meer as een keer ‘n sonar doen en dan roep sy die dokter. Dit was asof sy nie kon glo wat sy sien nie.
Weer ek het geglo en vertrou dat die Here my vergrote hart gaan genees.
Verlede jaar November is ek soos gewoonlik een keer ‘n jaar na die kardioloog toe. Die assistent het ‘n sonar gedoen en sy het toe vir ‘n tweede keer die sonar gedoen. Ek wou niks vra nie. Want ek het meer bekommerd gewees dat iets groot fout is.
Ek het by die dokter se lessenaar gesit, gespanne oor wat hy sou sê. Toe deel die dokter die goeie nuus met my, my vergrote hart is terug na die regte grootte wat dit moet wees. Hy het selfs gesê my hart het gewig verloor.
Ek het by die huis gekom en ek was so oorweldig deur die goeie nuus, met tye het ek gehuil en dan weer gelag van blydskap. Maar die hele tyd, kon ek nie ophou om vir die Here dankie te sê nie. Dit was een van die grootste wonderwerke wat die Here in my lewe gedoen het.
Ek het nog ander chroniese siektes, maar ek glo en vertrou steeds dat die Here op Sy tyd my gesond sal maak. Die Here weet wat die beste vir ons is. Ons moet aanhou vertrou, al is dit hoe moeilik.
Die Here sal die uitkoms gee op die regte tyd en as dit Sy wil is.
Mag die Here julle seёn
Groete in Christus Jesus

It is God’s will for u to b totally healed. Do not receive the lie from satan that God only heals halfway. God has started ur healing, stand on His Word and never give up. Get rid of any chance of doubt/fear in Jesus name and continue to praise Him.
Thank you Laetitia 🙂