01:50 in die oggend word ek wakker en hoor iemand loop met tekkies op die teëls. Ek sit toe my lampie aan en luister en dit klink toe of iemand in die huis is. Ek maak toe my man Johan wakker en sê vir hom ek dink hier is iemand in die huis. Ek het dit baie helder gehoor die geloop en die geluid van tekkies.
Toe vra ek die Here om ons te beskerm en ons gaan toe van kamer tot kamer, maar ons kry niks nie.
Later die middag gaan bid ek en die Here sê vir my: “Moet vir geen oomblik dink jy is mal nie, My kind. Ek is net besig om jou aan goed te openbaar wat jy gaan gebruik om goed te onderskei, soos geeste en demone. Dit gaan ook deel wees van jou werk. Ek weet jy het groot geskrik, My kind, maar Ek is met jou. Ek sal jou bewaar en ek gaan My engele rondom jou plaas. Niks sal aan jou raak nie en niks sal jou seermaak nie.”
“Ek begin om jou gereed te maak sodat jy My werk kan doen en uitvoering kan gee aan My Wil hier op aarde. Jou beskermengel is langs jou, My kind. Moenie vrees nie. Snaakse goed gaan gebeur. Maar dit is deel van jou roeping. Anders gaan jy nie weet hoe om My werk te doen nie. Ek moet jou toerus. Aanslae gaan kom, maar Ek sal dit keer en nie ’n haar op jou kop sal wegraak nie. In My is jy sterk, My kind, onthou dit. Wees rustig en moenie jou bekommer nie. Jy moet rus. Die engele sal wag hou.”
Lukas 8:50
Maar toe Jesus dit hoor, antwoord Hy hom en sê: Moenie vrees nie. Glo net, en sy sal gered word.
Openbaring 1:17
En toe ek Hom sien, val ek soos ’n dooie aan sy voete; en Hy het sy regterhand op my gelê en vir my gesê: Moenie vrees nie; Ek is die eerste en die laaste.
Mattheus 10:30
En van julle is selfs die hare van die hoof almal getel.
Lukas 12:7
Maar selfs die hare van julle hoof is almal getel. Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies.
‘n Geseende dag vir julle
