In Johannes 8:12 sê Jesus die volgende:
“En Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.”
Jesus het lig aan hierdie donker wêreld geskenk, deur Sy wandelinge hier op aarde waar Hy gepreek en mense gesond gemaak het. Ook deurdat Hy gewone mense se lewens aangeraak het terwyl Hy hier op aarde was. Lig is helder, verblindend maar in lig is alles geopenbaar en kan niks weg gesteek word nie. Met die teksvers hierbo wil Jesus sê dat Hy is die lig waar alles helder en sien baar is. As ons Jesus volg sal ons nie in die duisternis wandel nie.
Wat is die duisternis? Dit is donker en as jy as jy al in die aand gesit het en die elektrisiteit gaan ewe skielik af, lyk alles rondom jou anders en vreemd. As jy probeer loop stamp jy dalk jou toon teen meubels en ander versperrings in jou pad. Ons oë het so gewoond geraak aan lig dat as dit donker is, is dit moeilik om te loop sonder om jou te beseer. Duisternis is ’n negatiewe, destruktiewe wêreld maar lig straal positiwiteit uit.
Wat bedoel Jesus as Hy sê: Maar sal die lig van die lewe hê. As jy die Here volg en in die lig van die lewe wandel sal jou pad helder skyn. Ja, daar sal moeilike dae opduik en dit is te verstane want ons lewe in ’n gebroke wêreld.
As jou lewe voel of dit in ’n donker put is, hou vas aan God se Woord wat onfeilbaar is. Die duisternis is klaar oorwin deurdat Jesus aan die kruis gesterf het sodat ons in die Lig (Heilige Gees) gelei en versterk kan word.
Die Heilige Gees kan jou lei na plekke wat jy nog nooit gedink het moontlik is nie. Maar as jy wandel in die lig sien jy die mooiheid raak rondom jou en jou gees word vervul met vreugde.
Laat ons dan nie moeg word om ons oë gefokus te hou op die Here nie en dat ons besef die heerlikheid van God skyn oor ons waar ons ook al gaan.
Here, baie dankie dat U Lig in hierdie donker wêreld skyn. Somtyds lyk die duisternis oorweldigend maar ons weet dat U Lig skyn helder, sodat ook ons lig helder sal skyn en mense ons sal uitken as ware kinders van Christus. Amen

Wonderful word. Amen and amen