Dit was in die jaar 2005. Ek en my man het, nadat ons getrou het, by my ouers op die plot gaan bly. Ons het in ’n woonstel op die plot gebly. Daardie Vrydagmiddag was soos al die ander Vrydae middae gewees. My man het vroeg van die werk af gekom en ek was besig om lêers te vou op die lessenaar. Ek het my ma op daardie stadium gehelp met administrasie. My ma het laat weet hulle gaan gou ry en sal nie lank weg wees nie. Ons was gewoond my ouers ry gou kafee toe of poskantoor toe.
Ek het nog by die lessenaar gesit toe die Heilige Gees ewe skielik vir my sê: Bid vir beskerming vir jou ouers waar hulle nou ry. Ek het my oë toegemaak en dadelik gebid dat die Here engele stuur om my ouers te beskerm. My man het my gevra waarom ek nou so gesit het met my oë toe. Ek het geantwoord dat ek ’n gevoel gekry het ek moet vir my ouers bid vir beskerming.
Na omtrent 5 minute het my selfoon gelui. Toe ek antwoord, sê my ma: “Ons was nou net in ’n ongeluk.”
Ek het die lêers van die tafel afgegooi en ek vir my man vertel my ouers was sopas in ’n ongeluk. My ouers het op die grondpad gery waar ons al die jare bly. Toe hulle om die draai gaan, toe kom ’n ander buurman met sy groot bakkie en hy hou nie in sy baan nie. Hy het nie in sy baan gery nie, maar oor die pad gery. Hy het hulle reg van voor gestamp. Hy was op daardie stadium besig op sy selfoon. Met die slag is my pa se neus gebreek en my ma het ook baie seergekry.
Die ambulans personeel moes haar uit die voertuig haal. Ons is hospitaal toe en het daar gewag op nuus van my ma. My pa is ondersoek en net sy neus was gebreek en hy het kneus plekke gehad. My ma se arm het seergekry en haar ribbes was gekraak. Daar waar die sitplekgordel haar geruk het was dit pers. Ek het in die hospitaal gesit en die heeltyd gebewe en ek kon nie ontspan nie.
Ek kon nie glo dat ek net ’n paar minute voor die ongeluk gebid het nie. Almal het gedink ek is onder spanning, maar ek kon net nie glo wat gebeur het nie. Ek het geweet dit was ’n wonderwerk en dat die Here engele gestuur het om my ouers te bewaar. My ma het aangesterk by die huis vir ’n paar weke ná die ongeluk. Sy het vandag nog pyn op plekke wat nooit weer dieselfde as voorheen sal wees nie.
Maar my ouers lewe en ek dank God vir daardie dag se ingryping. Ek sal dit die res van my lewe onthou en ek weet dat die Here engele kan en wil stuur om ons te beskerm. Gebed kan ’n verskil maak as jy met jou hele hart glo en luister wat die Here vir jou sê om te doen.
Die Here seen julle

Tku Jesus!! I blve there’s such power in psm 91. Blessings