Lukas 9:23
En Hy sê vir almal: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg.
Wat beteken verloën? Dit beteken jy moet die eie ek opgee. Jou wil, jou beroep, jou huwelikslewe, jou gesin, ensovoorts. Dit klink dalk verskriklik, maar ek bedoel nie jy moet alles opgee nie en alleen voor begin nie. Wat ek bedoel, is: Jy moet die Here eerste stel in jou lewe en ’n intieme verhouding met Hom hê. Hy wil nie hê jou tyd moet in kompetisie met Hom wees nie, soos lang tye wat jy op sosiale netwerke verkeer, te hard werk ensovoorts. Jou fokus word weg gelei van die Here as jy te besig is met die wêreldse dinge.
Jy moet jouself totaal oorgee aan die Here sodat die Heilige Gees in jou kan werk. Die Heilige Gees sal sekere gebiede in jou lewe uitwys wat moet verander. Jy moet oop wees daarvoor as jy regtig volkome die Here wil volg. Die Here wil jou hele lewe verander en nie net ’n sekere gedeelte van jou nie. Jy gaan daarteen stry en baklei maar op die ou end is dit die moeite werd. Die geluk wat jy aan die einde gaan ervaar is om saam met Jesus in die goue strate van die Hemel te stap.
Verandering is nie maklik nie. Moenie dink dit sal jou in die Hemel kry deur elke Sondag in die kerk te sit en deurdat jy goeie werke doen by die kerk of in die gemeente nie. Daar is ’n verskil. Jy kan ’n bewonderaar wees deur te sê jy is ’n Christen deurdat jy Sondae vroom in die kerk banke sit, maar gedurende die week mag die Here nie vir jou goed uitwys wat verkeerd is nie. Dan is jy jou eie persoon en besluit jy vir jouself – al maak jy verkeerde besluite.
Om ’n volgeling van Jesus te wees verg baie. Jy sal sekere goed moet opgee wat nie ooreenstem met God se wil vir jou lewe nie. Dit kan wees sekere vriendskappe wat nie voordelig vir jou is nie. Die smal pad wat jy gaan loop is met klippe en dubbeltjies gesaai.
Dit gaan jou voete seermaak en moeilike tye gaan daar wees. Die Satan gaan jou aanval met alles wat hy kan. As jy die breë pad volg gaan jy maklik kan stap maar dit lei na die verderf. Die pad na die ewige lewe vra opofferings, tyd saam met die Here.
Mense gaan kwaad wees vir jou omdat jy die Here eerste stel in jou lewe. Die Here wil jou hele hart hê, nie net ’n gedeelte nie. Totaal verbind tot ’n intieme verhouding met die Here. Om elke dag te sterf is om elke dag opnuut jou hele lewe aan die Here oor te gee en Hom te vertrou wat ook al op jou pad gaan gebeur.
So verklaar jy opnuut dat jy die Here eerste stel en die Here volkome vertrou. Om die kruis elke dag op te neem is om as ware Christen te leef. Die kruis simboliseer Jesus wat gesterf het sodat ons eendag saam met Hom in die Hemel kan wees. En die uitstorting van die Heilige Gees om ons te lei en te onderskraag in swaar tye.
Wat dit alles beteken is dat jy ’n nuwe mens gaan wees en waarop dit neerkom is een woord liefde. Liefde vir jou naaste, bure, mense, natuur ensovoorts. Die omgee gaan aanhou groei in jou hart deurdat jy meer belangstel in ander mense se lewe, daar is vir hulle wanneer hulle jou nodig het. Selfs net dat jy na hulle kan luister gaan dit baie vir hulle beteken. Geen bitterheid sal daar meer wees in jou hart nie, want jy dien die wonderlike God en deurdat jy mense vergewe het lewe jy as ’n vry mens en kan jy meer soos Jesus optree terwyl jy op aarde is.
Wat wil jy hê moet mense van jou onthou as jy eendag sterf? Dat jy hard gewerk het, baie geld verdien het, ’n groot huis besit. Ander mense het jou bewonder en jou aansien het verhoog.
Maar jy staan dalk voor die regterstoel eendag en die Here vra vir jou: “Ken jy My?” en jy sê: “Ja Here, ek ken U”. Dan antwoord die Here en sê: “Gaan weg van my af, want ek ken jou nie.”
Want jy was dalk ’n bewonderaar wat elke Sondag in die kerk gesit het, maar nooit ’n intieme verhouding met die Here gehad het nie. En ook nooit besef het wat dit regtig beteken om Jesus te volg nie.
Wil jy nie liewers onthou word as die persoon wat altyd daar was as iemand deur moeilike tye gegaan het nie, uitgereik het na mense in nood en selfs net iemand se hand vasgehou wat bemoediging nodig gehad het nie. Die Here sal in die hemel se welgedaan jy het My koninkryk op aarde uitgeleef en hier in die Hemel sal jy beloon word daarvoor. Jy het hard baklei vir jou Christenskap en opgestaan vir wat reg en verkeerd was. Geloof sonder dade is kragteloos.
Vader, ons kom na U as nietige mense. Ons wil ons hele hart vir U gee. Omskep ons gedagtes en wil om op U te fokus. Here help ons om nie net bewonderaars te wees nie maar ware volgelinge wat vir U sal veg hier op aarde en ook U goedheid en lig sal uitdra waar ons gaan. Ons vra Here verander ons harte sodat ons ’n intieme verhouding en vriendskap met U kan hê. Aan God kom al die Eer en Heerlikheid. Amen
Die Here seen julle
