1 DESEMBER 2014
Maandag oggend net voordat ek wakker geword het, droom ek die volgende. Ek was in Jerusalem in Israel. Ek was nog nooit daar nie. Maar ek het geweet ek is in Israel. Die strate was baie nou en daar was ’n vergadering wat plaasgevind het, in ’n plek wat soos ’n kerk gelyk het. Daar was baie plaaslike predikers en ander Christene. Hulle het Engels gepraat en dan ook ’n taal gepraat wat soos Hebreeus geklink het. Hier en daar het iemand iets in Engels gesê byvoorbeeld: “The New World Order is busy rising up and we must step up our plans.”
Hulle het ook gepraat van die Slag van Armageddon en die plek Petra. Die plek Petra het ek duidelik gesien op ’n prentjie wat hulle gewys het. Daar was ook baie kaarte van plekke gewees. Dit was asof ek ’n kykie gekry het hoe die Christene begin voorberei op gebeure wat oppad is.
Nadat die Here Jesus weer kom op die wolke en die wegraping vind plaas, sal daar 7 jaar van verdrukking plaasvind. Die tekens wat in daardie tyd moet gebeur tydens die verdrukking is die volgende: Die Antichris se hoofstad Babilon (deesdae Irak) sal deur die Here verwoes word. Dan sal daar ook ’n massiewe aardbewing plaasvind. Die Slag van Armageddon sal dan plaasvind, waar die wêreldmagte teen Jerusalem en die oorblyfsels van die Christene wat in Petra skuil oorlog sal voer.
Maar die Christene wat in Petra skuil sal bonatuurlik deur die Here beskerm word. Petra beteken in Grieks rots. Dit is gepas vir ’n dorp wat letterlik uitgekerf is deur sandsteen woestyn hange. Dit is geleë omtrent drie ure suid vanaf Amman, die hoofstad van Jordanië. Dan sal die Here vir ’n tweede keer terugkeer aarde toe. Om op die aarde te kom regeer saam met al Sy kinders wat Hy voor die tyd weggeraap het.
Ons leef definitief in die laaste dae. Mag die Here mense se oë oopmaak voordat dit te laat is.
Openbaring 18:1-2
1 En ná hierdie dinge het ek ’n engel sien neerdaal uit die hemel, met groot mag, en die aarde is verlig deur sy heerlikheid. 2 En hy het met ’n groot stem kragtig uitgeroep en gesê: Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword ’n woonplek van duiwels en ’n versamelplek van allerhande onreine geeste en ’n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls…
Openbaring 19:5-6
5 En ’n stem het uit die troon uitgegaan en gesê: Prys onse God, al sy diensknegte, en julle wat Hom vrees, klein en groot! 6 En ek het iets gehoor soos die stem van ’n groot menigte en soos die geluid van baie waters en soos die geluid van sterk donder slae wat sê: Halleluja! Want die Here God, die Almagtige, het die koningskap aanvaar.
Openbaring 19:11-13
11 Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ’n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. 12 En sy oë was soos ’n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het ’n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self. 13 En Hy was bekleed met ’n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God.
