PSALM 46:11
Laat staan en weet dat Ek God is.
In hierdie gejaagde lewe waarin ons leef, is dit baie moeilik om tyd in te rig om stil te word of die wêreldse eise en dinge te laat gaan. Om tyd saam met die Here te hê is uiters belangrik maar hoe om dit in te rig in ons besige skedules is ’n perd van ’n ander kleur. Jy staan vroeg op, eet ontbyt, trek aan vat dalk die kinders skool toe en dan reguit kantoor toe. Dit is ’n mallemeule van ’n gejaag van punt A na punt B en partykeer is daar dalk nog punt C en D na wat jy toe moet jaag soos jou kinders se buitemuurse aktiwiteite. Dit kan regtig veeleisend raak en jou tyd saam met die Here al hoe minder maak.
Maar wat kan jy doen? Jy kan die dinge van die wêreldse lewe laat staan. Wat ek daarmee bedoel, is dat jy jou fokus verander met tye gedurende jou dag. Soos byvoorbeeld om vroeër op te staan in die oggend en tyd te maak deur Bybel te lees en te bid en jou eie stilte tyd te hou voordat die dag amptelik in die huishouding begin. Deur in stilte met die Here verkeer is jy meer oop gestel om na die Here se stem te luister en ook die fluistering van die Heilige Gees kragtig in jou lewe te ervaar. In stilte voel jy nader aan die Here en jy kry nuwe krag om die besige dag aan te vat maak nie saak wat voorlê nie.
Deur die dag is jy verskriklik besig met ander dinge en die gedagte om met God te praat kom dalk nie eens by jou op nie. Maar terwyl jy oppad is om jou kinders op te tel by die skool, kan jy hardop in die motor met die Here praat en so jou tyd saam met die Here hê. Jy kan enige tyd met die Here praat, maak nie saak waar jy is nie. Jy kan ’n gebed doen sonder om hardop te praat terwyl jy dit doen of met die Here praat sonder om hardop te praat.
Deur net jou aandag aan die Here te wy en te fokus en te vergeet van die wêreldse dinge, laat jou besef dat die Here altyd saam met jou is. Hoe meer jy dit begin toepas in jou daaglikse lewe en selfs ook in die aand die dag afsluit, deur behoorlike huisgodsdiens te hou saam met jou familie. Sal jou laat besef dat die Here deel kan wees van jou lewe elke oomblik van die dag.
Jy kan selfs om stilte te ervaar in die natuur gaan sit, waar jy een met die Here se skepping kan raak. Om die vars lug in te asem, die geur van die blomme te ruik en die voëls te hoor sing kan jou weereens laat besef hoe groot God is en hoe nietig ons as mense is. In stilte kan jy hoor wat die Here vir jou wil sê. In stilte kan jy ook die werking van die Heilige Gees meer beleef deur jou oop te stel vir verandering en vernuwing in jou hart.
Deur jou los te maak van alles wat rondom jou aangaan en jou tyd net aan die Here te wy, plaas jy God eerste in jou lewe en jy sal kragtige veranderinge beleef in jou lewe. Dit sal klein begin soos ’n klein spoelklippie totdat dit so groot word soos ’n rots. Die rots is Christus wat altyd daar was en altyd daar sal wees tot in ewigheid.
Here ek bid dat U ons oë sal oopmaak om te besef dat ons die wêreld met al sy dinge en eise partykeer moet opsy skuif, sodat ons fokus meer op U sal wees. Here ek vra dat U kragtig in ons sal werk sodat ons U eerste sal stel en tye sal vind om rustig by U voete te kan sit. Laat ons stil wees om te hoor wat U vir ons wil sê. Amen
Die Here seen julle

Amen and amen