Spreuke 3:5-6
5 Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie. 6 Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.
As jy volkome op die Here vertrou gaan daar so baie deure vir jou oop. Voorheen het jy dalk ervaar dat die deure toe geslaan word voor jou. Ons wil so graag self besluit oor wat vir ons reg en verkeerd is in die lewe. En ja dit is in ’n mate elke persoon se keuse om te kies tussen wat reg en verkeerd is.
Waar die verskil inkom, is wanneer jy die Here volkome vertrou, sal Hy dat die Heilige Gees jou lei en jou wys wat jy moet doen. Die antwoord gaan dalk nie dadelik kom nie, maar hou moed en hou aan glo. Die Here antwoord op die regte tyd.
Ons wil so graag hê dinge moet nou gebeur of wanneer ons wil hê dit moet gebeur. Ons maak op ons eie insigte staat wat die beste vir ons gaan wees. Maar die Here het ’n groter plan met elkeen van ons. Sy paaie vir ons is onbekend totdat jy die weg begin stap saam met Hom.
In elke projek, taak, besluitneming ensovoorts wat jy daagliks aanpak, ken die Here daarin en vra en bid tot die Here of dit die regte besluit vir jou is en of dit ’n positiewe impak op jou lewe gaan hê en die mense rondom jou. Baie mense maak keuses op hulle eie en raadpleeg nooit die Here nie.
Hulle raak frustreerd en kan nie verstaan hoekom niks wil uitwerk nie. Hulle doen deeglike beplanning en voorbereiding maar die eindproduk is ’n flop.
Jy het op jouself staatgemaak en dit is reg so, want ons moet self ook besluit wat ons wil doen. Maar met die Here se inset in ons lewens, maak dit die deure al hoe wyer oop. Jou horisonne word verbreed en nuwe wêrelde gaan vir jou oop.
Wanneer jy jou totaal oorgee aan die Here deurdat jy luister na die Heilige Gees se leiding in jou lewe, sal die Here sorg dat jy op die regte pad wandel. Hou net aan om Hom volkome te vertrou. Hy weet wat vir ons goed is. Dit waarvan jy net gedroom het, kan bewaarheid word. Saam met die Here is enige iets moontlik.
Vader, ek vra dat U ons ontvanklik sal maak sodat ons U volkome vertrou rakende besluite in ons lewens. Here, laat ons U ken in alles wat ons aanpak en ons weet dat U ons op die regte pad sal laat loop. Sonder U is ons niks Here, maar saam met U is die moontlikhede eindeloos. Amen
‘n Geseende dag vir julle

Amen and amen.
TRULY HE IS FAITHFUL AND TRULY HE WATCHES OVER HIS WORD TO PERFORM IT!!!!!!”