Die Vrug van die Gees: Deel 4

Galasiërs 5:22

Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede,

lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid,

sagmoedigheid, selfbeheersing.

Getrouheid:

Wat beteken getrouheid? Om toegewyd te wees, om vir iets te staan. Dit kan selfs gaan oor jou norme en waarde stelsel. Om jou waardes en normes getroud te volg en op te staan vir dit waarin jy glo. Dit kan sover gaan as om op te staan vir jou Christenskap.

Wanneer mense God se woord ydelik gebruik deur dit te gebruik as hulle vloek. Sal jy opstaan en sê jammer, maar dit wat jy nou net gesê het is nie reg nie, en ek wil my nie meer ophou met ’n persoon wat die Here se Naam so ydelik misbruik nie? Ja, die persoon gaan kwaad wees en jy gaan dalk ’n vriend of vriendin verloor. Dit wys dat jy waarlik ‘n kind van God is en sal opstaan en toegewyd jou Christenskap sal uitleef. Jy sal optree teen dit wat verkeerd is.

Die waarheid maak jou vry en deur jou Christenskap uit te leef en toegewyd jou Bybel te lees en ’n naby verhouding met die Here te hê, sal jou wêreld vir altyd verander. Die heerlikheid van God sal oor jou skyn en die Heilige Gees sal kragtig in jou werk, sodat jy jou doel hier op aarde kan uitdra en uitleef.

Sagmoedigheid:

Hoe om sagmoedig op te tree in hierdie lewe. Deur ander mense met ’n teerheid te behandel, nie kras met mense te wees en oor hulle te loop nie. Deur saggeaard te wees met jou woorde en dade en mense ordentlik behandel soos jy behandel wil word. Omdat jy sagmoedig optree voel mense jy gee om en jy stel in hulle belang. Hulle kan dan met vrymoedigheid hulle harte oopmaak vir jou en hulle gevoelens, probleme ensovoorts met jou deel.

Deur ’n persoon teer te behandel as die persoon deur ‘n moeilike tyd gaan, wys dit dat jy die persoon se situasie respekteer en daar is vir die persoon. Om mense hulle lewe te laat lewe sonder om die hele tyd in te meng en vir hulle voor te skryf, sal mense ook meer jou vriend of vriendin wil wees.

Laat mense besef jy veroordeel hulle nie en jy gee hulle die vryheid om hulle lewe te leef soos hulle wil. As hulle afwyk van die goeie pad, is jy daar met ’n skouer om op te huil, ’n oor om te luister, ’n sagte blik terwyl jy oogkontak maak terwyl die persoon sy of haar hart uitstort en ’n hand om vas te hou vir bemoediging.

Selfbeheersing:

Toepassing van selfbeheersing: ’n Mens kan maklik kwaad word vir ’n ander persoon. Veral as die persoon jou uitlok om in woede iets te sê of te skree. Maar as jy in die Lig van die Heilige Gees wandel kan jy selfbeheersing toepas. As die persoon jou aanval met woorde en beledigings. Kan jy rustig sit en ’n diep asemteug in en uit blaas en met ’n kalm stemtoon vir die persoon sê jy verstaan die persoon is kwaad. Maar kan ons dit op ’n rustige manier uitpraat.

As die persoon nog steeds skree en nie wil luister nie, kan jy vra of jy die vertrek kan verlaat as jy saam met die persoon bly. Sodat julle tyd kan kry om af te koel en later nugter oor die probleme kan praat. Dit is beter om ’n wag voor jou mond te sit. Want as jy eers iets gesê het wat kon gebly het en dit verlaat jou mond, dan kan jy dit nooit weer terugkry nie.

Dit gebeur maklik in ’n oomblik van erge woede uiter mense iets wat iemand anders baie seermaak of selfs kan skaad vir die res van haar of sy lewe sonder dat hulle dit besef. Woede is nie die antwoord nie. Die vrug, selfbeheersing van die Gees laat jou toe om meer soos Jesus op te tree.

Deurdat jy op ’n rustige, nugter wyse probleme uitpraat en mekaar nie seermaak met woorde nie. Dit is moeilik veral as jy na mense toe gaan en jy weet hulle is daarop uit om jou sleg te sê en hulle aanvaar jou nie.

Voordat jy na sulke mense gaan bid dat die Heilige Gees saam met jou sal wees en ’n wag voor jou mond sal sit en jou rustig sal maak. Die persoon wat baie woede het, het dalk ‘n struweling binne in hom of haar en haal dit op jou uit. Daar is dalk iets heeltemal anders wat die persoon ongelukkig maak en nou wil hy of sy jou ook ongelukkig maak.

Aanvaar dat die persoon sy of haar probleme dalk op jou projekteer as jy weet jy het niks verkeerd gesê of gedoen om so behandel te word nie. Bid dat die Here in die persoon se hart werk sodat die persoon vry kan word en ook vrede kan ervaar.

n Vrug is sappig, soet en die meeste vrugte is helder. Veral op ’n warm dag is ’n lekker sappige perske ’n lafenis. As jy die vrugte van die Gees op jou lewe toepas sal jy jou lewe kan vergelyk met ’n boom (verskillende takke simboliseer jou drome, waardes, normes ensovoorts) wat goeie vrugte dra. Dit sal helder kleurig wees en soet. As die Heilige Gees in jou woon is jy ’n nuwe mens.

Net soos ’n nuwe vrug waarvan die sade op die grond val en die reën en wind die sade versprei sodat nog meer vrugte kan dra. So kan jou lewe ook wees deur die vrugte van die Gees toe te pas op jou lewe, dan sal jy nader aan die Here kom en die skille sal van jou oë afval en jy sal die wêreld vir die eerste keer sien soos wat Jesus dit beleef het en mense behandel het.

Vader, ek vra dat U ons vrugte sal laat dra tot verheerliking van U koninkryk. Ek vra dat U die Heilige Gees sal stuur om in ons te bly en ons te lei. Sodat ons ligdraers in hierdie wêreld kan wees. En dat U ons kan uitken aan die vrugte wat ons dra en dit U hart verwarm. Ek bid dit in Jesus Christus Naam alleen. Amen

1 thought on “Die Vrug van die Gees: Deel 4

  1. Laetitia sê:

    Amen and amen. All such Truth.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui