Vandag leef ons in snaakse tye. Ons lewe in die eind tye. In Mattheus 24 sê Jesus vir sy dissipels: “Pas op dat niemand julle mislei nie”. Ek moet nou eerlik wees en sê dat ek die vers al verskeie kere gelees het. Dit is ‘n heel eenvoudige vers, een wat ‘n mens maklik nie eens twee keer oor sal dink nie. Ek het nie.
Maar het jy al regtig gaan sit en dink wat beteken die vers? Wat beteken dit om nie mislei te word nie? Die woordeboek definisie van mislei beteken om te bedrieg, om verkeerd te lei. Die engelse woord vir mislei is “mislead”. Die Miriam Webster woordeboek definieer dit so: “to lead astray : give a wrong impression”.
Jesus sê ons moet pasop dat ons nie bedrieg word nie. Die vraag is word jy bedrieg deur iemand of dinge? Ek dink enige normale mens sal vandag antwoord nee, ek is in beheer.
Goed maar kom ek daag jou uit vandag, kom ons gaan krap bietjie rond. Op die oog af bedrieg niks ons nie, maar nou wil ek graag hier ‘n stelling maak. Die vyand het ons al so gewoond gemaak aan dinge wat verkeerd is dat ons dit al vanself sprekend aanvaar.
Nou kan jy my vra: “Waar kom jy daaraan?” Kom ons gaan kyk na ‘n voorbeeld.
Hoeveel keer het jy na ‘n fliek gekyk wat uit Hollywood kom, met ‘n ouderdoms beperking van 16 en meer met tonele van seks en naaktheid? Ek wil my verstout om te sê ons almal het al. Maar kom ons meet dit aan die woord van God, die bybel. Mattheus 5:28 sê:
“Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ’n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het.”
Hier sê Jesus dat elkeen wat na ‘n vrou kyk met begeerte, eintlik egbreuk pleeg in sy hart. Met ander woorde, hy is ontrou aan jou huweliks maat. Plus dit druis lynreg teen wat God in sy Tien gebooie gesê het.
Ons kan na nog ‘n voorbeeld kyk: Die meeste mense wat ek ken is op Facebook. Op die oog af is daar niks mee fout nie. Die probleem kom natuurlik in as jy ‘n ou skool liefde op soek of jy sien aanloklike foto’s van meisies. Dieselfde prinsiep geld hier, as jy kyk met begeerte dan pleeg jy egbreuk.
Nou ek verstaan dat nie alle mans so is nie, maar wat ek graag hier wil by uitkom is dit: Ons as mense het al afgestomp geraak vir die Here se woord. Baie mense lees en ken nie meer die bybel nie. Party mense is nie eens bewus dat dit sonde is nie.
Vandag wil ek jou nie oordeel nie, maar vandag wil ek jou in liefde lei, ek wil jou oё oopmaak en jou laat besef die vyand is daar buite, hy loop soos ‘n brullende leeu rond op soek na wie hy kan verslind.
Hosea 4:6 sê:
“My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet.”
As ons nie die bybel lees nie, as ons dit nie deel maak van ons lewens nie, dan sal ons ten gronde gaan. Daar is ‘n maklike toets om alles te meet, met een vraag: “Is dit wat ek nou doen tot eer en verheerliking van God en my vrou?”
Liewe leser, ek wil vandag pleit by jou, moet nie dat die vyand jou om die bos lei nie, gaan terug na Jesus toe belei jou sonde en begin Hom volg”

baie waar .ons lewe in n baie deurmekaar .dus nie die wereld nie dus die mense
Amen!!! Such truth!!! Very well written.
Is sooo waar!