Bly wakker en hou aan bid

Lukas 22:46 ~ Hy se toe vir hulle: “Waarom slaap julle? Staan op en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie.” In hierdie wêreld moet ons wakker wees, en nie aan die slaap gevang word nie. Ons moet ons gebedslewe lewendig hou, sodat ons bewaar word en nie deur die duiwel versoek te word nie. Psalm 27:7 ~ Luister tog na my, Here, as ek roep; wees my genadig en verhoor my gebed. Hou aan om uit te roep na die Here in gebed. Die Here luister na jou. Hy sal jou genadig wees en jou gebed verhoor. Dit sal dalk heeltemal anders wees, as wat jy gedink het dit gaan wees. Maar God antwoord vandag nogsteeds gebede.

Die Here is altyd daar vir jou

Die Here het jou lief, aan Sy liefde is daar geen einde nie. Die Here is altyd getrou en Hy sal op die regte tyd, jou omstandighede verander en jou die uitkoms gee waarvoor jy gewag het. Jou naam is kosbaar vir Hom, gegrafeer in Sy Handpalms vir ewig. Jy behoort aan Hom. Al vergeet mense van jou of hulle verlaat jou, weet dat die Here altyd daar is vir jou. Psalm 136:1 ~ Loof die Here, want Hy is goed. Aan Sy liefde is daar geen einde nie. Jesaja 49:16 ~ Ek het jou naam in My handpalms gegraveer, Ek sien jou mure altyd voor My.

Geen groter liefde…

Here, U het as mens die aarde kom bewoon, en liefde aan alle mense betoon. U het nie gekom om U wil te doen nie, maar om die Wil van U Vader te laat geskied. U het omgegee vir mense, al was hulle moordenaars, prostitute, verwerptes uit die samelewing. U het uitgereik met liefde na hulle, en so hulle lewens verryk met U heerlikheid. Daar is geen groter liefde dat U vir ons gesterf het, ons as sondaarmense. Deurdat U nogsteeds liefde betoon het, deur hulle te vergewe wat U gekruisig het. Al ons sondes het U op daai dag op die kruis laat hang, U het ons sondes saam met U op Golgota laat sterf. U is liefde en daar is geen gelyke nie, dat U bereid was om te sterf om ons te onthef van ons sondes.

VOLHARD OP DIE PAD WAT JY STAP…

Die Here is met jou vandag. Hy sal die pad vir jou gelyk maak. Ja, daar is hobbels en klippe op die pad, en jy gaan dalk jou voet met tye stamp. Maar onthou die Here stap saam met jou, en jy besef dan dat dit die regte pad is om te stap. Die pad lei na die Ewigheid, waar jy die Vrede en Heerlikheid van die Here sal ervaar. Hou moed maak nie saak hoe moeilik dit is nie, moet nie van die pad af wyk nie. Die einde is in sig, daarom hou moed en verbly jou in die Here. Die Here sal voorsien. Sy beloftes sal Hy tot vervulling bring. Daarom volhard in hierdie moeilike omstandighede, hou aan glo en vertrou. ~ Matteus 24:13-14 ~ 13 Maar wie tot die einde volhard, sal gered word. 14 En hierdie evangelie van die koningkryk sal in die hele wêreld verkondig word, sodat al die nasies die getuienis kan hoor. Eers dan sal die einde kom.

Waarom is jy angstig en bekommerd My kind? (Boodskap van die Here)

My kind moenie bekommerd en angstig wees nie, Ek weet wat jy nodig het. Moenie toelaat dat jou gedagtes gevul word deur negatiwiteit nie, vertrou My, My kind.   Alhoewel dit menslik is om angstig en bekommerd te wees, Ek, jou God luister na jou gebede en sien jou pyn. Hoekom sal Ek weg kyk en niks doen nie, Ek is jou Voorsiener en jou Verlosser.   Moenie bekommerd wees wat môre sal bring nie, môre bring sy eie probleme. Ek gee om vir jou My kind, Ek sal jou voorsien met My rykdom en heerlikheid.   As ek omgee vir die diere wat Ek geskape het, hoeveel te meer sal Ek vir jou omgee My kind. Ek het jou gevorm in jou ma se moederskoot.   Jy is kosbaar en spesiaal vir My. Vertrou My kind, in die wete dat jy behoort aan My. Maar eers moet jy My soek met jou hele hart, siel en gees, en Ek sal jou meer gee as jou hartsbegeerte of wat jy ooit kon dink het.   Onthou My kind, Ek sal jou vir altyd lief hê…